Washington, D.C.

Washington, D.C.

Kaart Seël
Vlag
 Land Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
 Federale distrik Distrik Columbia
 Koördinate 38°54′N 77°01′W / 38.900°N 77.017°W / 38.900; -77.017
 Gestig op 16 Julie 1790
 Oppervlakte:  
 - Totaal 177 km²
 Hoogte bo seevlak 0–125 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2020) 689 545
 - Bevolkingsdigtheid 4 361,45/vk km
 - Metropolitaanse gebied 6 385 162
 Tydsone UTC -5 (OST)
 - Somertyd UTC -4 (ODT)
 Klimaat  
 - Tipe Subtropiese klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 14,6 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 2,3 / 26,6 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 1 055,3 mm
 Burgemeester Muriel Bowser (D)
 Amptelike webwerf dc.gov

Washington, D.C. is die administratiewe hoofstad van die Verenigde State van Amerika. "D.C." is 'n afkorting vir die Distrik Columbia (Engels: District of Columbia), die federale distrik, wat egter feitlik gelykstaan aan die stad Washington. Die stad is genoem na George Washington, die militêre leier van die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog en eerste president van die Verenigde State.

'n Lugaansig van Capitol Hill en die National Mall
Die gebou van die Amerikaanse Hooggeregshof (Supreme Court of the United States) teen skemertyd
United States Capitol teen sonop
Die U.S. Air Force Band Ceremonial Brass poseer voor die Withuis

Die Distrik Columbia en die stad Washington word deur dieselfde munisipale regering beheer. Vir die meeste praktiese doeleindes word hulle tans as dieselfde politieke en geografiese eenheid beskou. In 1871 was Georgetown egter nog 'n selfstandige stad en daar was verskillende munisipale regsgebiede in die Distrik. Alhoewel daar 'n burgemeester en munisipale regering bestaan, oefen die Kongres die hoogste gesag in die Distrik uit, sodat die burgers 'n ander status en minder verteenwoordiging in die regering het as bewoners van ander deelstate.

Die Distrik Columbia dien as die sentrum van sowel die wetgewende en uitvoerende asook die regsprekende gesag van die Verenigde State. Die stad huisves daarnaas ook die hoofkwartiere van die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die Organisasie van Amerikaanse Lande en ander nasionale en internasionale instellings. Washington, en veral sy National Mall, is die plek waar 'n groot aantal betogings en proteste plaasvind.

Talle nasionale besienswaardighede, monumente en museums maak van Washington, D.C. 'n gewilde toeristebestemming. Die stad staan in die VSA algemeen bekend as D.C., The District of net Washington. Om verwarring met die deelstaat Washington in die Noordwestelike Stille Oseaangebied te voorkom, word die stad dikwels D.C. genoem en die deelstaat Washington State.

Die Distrik Columbia het volgens 'n 2019-skatting van die VSA se Sensusburo 'n bevolking van 705 749. Die metropolitaanse gebied van Washington en Baltimore het 'n bevolking van meer as 8 miljoen en is die vierde grootste in die land. As 'n selfstandige deelstaat sou Washington, D.C. ten opsigte van sy oppervlakte die kleinste na Rhode Eiland wees, die vyftigste ten opsigte van sy bevolking (nog voor Wyoming), die eerste ten opsigte van sy bevolkingsdigtheid nog voor New Jersey en die 35ste ten opsigte van sy bruto geografiese produk.

'n Groot persentasie Washingtoners is nakomelinge van arm swart gesinne uit die suide wat hulle baie generasies gelede in die hoofstad gevestig het, in 'n tydperk toe regeringsinstellings die enigste werkgewers was wat ook swartmense vir goedbetaalde loopbane en gevorderde opleiding aangestel het. Ter geleentheid van regeringswisselings of nuwe kongresse vestig enkele duisend nuwe aankomelinge hulle steeds in die hoofstad, maar die oorgrote meerderheid van die inwoners is in ander bedrywe soos nywerhede en die opvoedkundige en sosiale sektor werksaam.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search